Federalisme hoef nie op grondwetlike hervorming te wag nie – gemeenskappe pas dit rééds toe – AfriForum Instituut vir Federalisme

Klankgreep: Dr. Martin van Staden (Afrikaans)

Gemeenskappe hoef nie vir politieke of grondwetlike hervorming te wag om federalisme in die praktyk toe te pas nie. Die vestiging van gemeenskapsinstellings – soos AfriForum en ander instellings in die Solidariteit Beweging – waardeur gemeenskappe self verantwoordelikheid vir hul veiligheid, opvoeding en selfs basiese dienslewering neem, wys dat federalisme rééds van grondvlak af ontwikkel. Dít is die kernboodskap van dr. Martin van Staden, hoof van die pasgestigte AfriForum Instituut vir Federalisme (AIF), se openbare lesing getiteld “Federalisme en federasie in Suid-Afrika vandag”, wat vandag (11 November) by AfriForum Teater aangebied is.

Dié nuwe instituut dien as die burgerregteorganisasie se algemene navorsings- en beleidsontwikkelingsentrum en as instrument vir die bevordering van denke en navorsing oor federalisme, selfbeskikking, desentralisasie en gemeenskapsoutonomie en -deelname. Die AIF streef daarna om ’n intellektuele fondasie te vestig vir ’n toekoms waarin gemeenskappe groter gesag en verantwoordelikheid oor hul eie sake kan uitoefen.

Vandag se openbare lesing is die eerste van sy soort vir die AIF.

Volgens Van Staden is Suid-Afrika reeds grondwetlik ’n federasie, ten spyte van die persepsie dat die land ’n unitêre staat is. Hy hou egter vol dat die land se grondwetlike raamwerk nie daarin geslaag het om federalisme betekenisvol te laat ontwikkel nie aangesien die praktiese politieke en finansiële gesag grotendeels gesentraliseer bly.

“Die huidige Grondwet van Suid-Afrika is ’n federale grondwet in struktuur en ontwerp aangesien provinsiale en munisipale magte grondwetlik verskans word eerder as om aan die diskresie van die nasionale regering toegedien te word,” verduidelik Van Staden.

Hy waarsku egter dat grondwetlike bepalings nie alleen genoeg is om die desentralisering van magte te verseker nie.

“Ons beskik oor ’n formele federale Grondwet wat die substansie van federalisme kortkom, en ons het ’n lewenskragtige en welvarende federalistiese werklikheid op voetsoolvlak aan die ontwikkel, sonder veel van ’n federale vorm,” voeg Van Staden by.

Van Staden het in sy lesing onder meer ondersoek ingestel na Suid-Afrika se federalistiese tradisie sedert die 1850’s en uitgelig hoe federalisme keer op keer – veral tydens onderhandelinge voor die vestiging van die Unie van Suid-Afrika in 1910 – as ’n alternatief vir gesentraliseerde politieke gesag oorweeg is. Alhoewel daar destyds uiteindelik op ’n unitêre stelsel besluit is, het federalistiese idees steeds politieke bewegings gedurende die 20ste eeu beïnvloed.

Hy meen dat die geskiedenis wys dat federalisme nooit eksklusief aan een kultuurgroep of politieke gemeenskap behoort het nie, maar eerder dat verskillende gemeenskappe die potensiaal daarvan raakgesien het om plaaslike outonomie te beskerm en die konsentrasie van politieke mag te beperk.

Van Staden is egter van mening dat die noemenswaardigste ontwikkeling in Suid-Afrikaanse federalisme vandag buite formele politiek plaasvind. Tekens hiervan is volgens hom te vinde in die opkoms van gemeenskapsfederalisme waar georganiseerde gemeenskappe instellings, soos AfriForum en die Solidariteit Beweging, stig en verantwoordelikhede aanneem wat andersins by die regering sou lê. Talle voorbeelde van dié praktiese toepassing van gemeenskapsfederalisme is volgens Van Staden sigbaar in AfriForum se meer as 175 buurt- en plaaswagte, die organisasie se ontwikkeling van noodreaksie- en brandbestrydingsvermoëns, die vestiging van privaat vullisverwyderingdienste en selfs privaat vervolging.

Van Staden meen dat hierdie inisiatiewe meer as net ’n tydelike reaksie op die mislukking van openbare dienste is en dat dit eerder demonstreer hoe gemeenskappe instellings kan bou en op ’n betekenisvolle wyse verantwoordelikheid vir hul eie belange kan uitoefen.

“Dit is belangrik om federalisme van die blote desentralisering van regeringsfunksies te onderskei aangesien ware federalisme van gemeenskappe vereis om verantwoordelikheid te aanvaar vir hul suksesse en mislukkings,” benadruk Van Staden.

Van Staden meen dat hoewel grondwetlike hervorming belangrik is, die praktiese ontwikkeling van selfonderhoudende gemeenskappe die onmiddellike prioriteit is. “Soos wat hierdie instellings meer gevestig raak, kan daar geleenthede na vore kom om hul gesag deur formele, grondwetlike reëlings te verskans,” sluit hy af.

Similar Posts